Wêreld Downsindroom Dag 2020

Sy is ‘n energieke klein dogtertjie wat mal is oor die buitelewe, dans en swem. Nes dit ‘n lyfie van haar ouderdom betaam, hou sy haar ouers behoorlik op hul tone en sien die lewe as ‘n skatkis vol pret.

Yolané is egter ‘n ekstra spesiale dogtertjie want sy het ‘n ekstra kromosoom. Tenspyte hiervan pak sy die lewe soos enige ander kind, met albei handjies, kaalvoet en met oorgaawe aan.

Sy is wel met Downsindroom gebore, maar Downsindroom is nie wie sy is nie.

 

Haar ma, Yolandé, het ‘n week na haar 12 weke roetine ondersoek, die oproep ontvang dat daar ‘n 1 uit 35 kans bestaan dat sy moontlik ‘n babatjie met Downsindroom kan hê. Nadat die uitslae van haar eerste amnosintese misplaas is, en sy vir ‘n tweede toets moes gaan, het sy op 23 weke die nuus ontvang dat die toets postitief was vir Downsindroom.

Na baie trane en gebede het daar ‘n kalmte oor Yolandé en haar man Steyn gekom en het hulle besluit om die onbekende pad saam aan te pak. Al sou die pad voorentoe saam met ‘n dogtertjie met Downsindroom, dalk anders aangepak moes word, was hulle dit eens, dat die reis die moeite werd sou wees.

Met ‘n onbeskryflike liefde en harte wat oorloop van vreugde het hulle Yolané op 6 Junie 2017 verwelkom. Sy is egter met twee hart defekte gebore, ‘n kondisie wat by meeste babatjies met Downsindroom teenwoordig is.

Tydens haar 6 maande ondersoek is daar vasgestel dat sy ‘n derde hart defek het en die dokters moes opereer. In Januarie 2019 moes sy vir ‘n tweede operasie gaan en alhoewel dit ‘n moeilike mediese jaar vir haar was, het sy nooit ophou glimlag nie.

Yolané het al haar mylpale saam die res van haar jaargroep behaal en klim en klouter graag wanneer sy die kans kry. Sy is mal oor musiek en dans graag wanneer die note begin speel.

Haar ouers het nog nooit toegelaat dat Downsindroom haar definieër en ‘n beperking stel tot wat sy instaat is nie. Net soos daar in Jeremia 1:5 geskrywe staan:“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy.” Hy het haar perfek na Sy beeld geskape. So kan ons dalk meer leer van God se liefde, by dié klein vrolike woelwater, wat háár liefde onvoorwaardelik uitdeel vir elkeen wat sy ontmoet.

Wêreld Downsindroom dag word elke jaar op 21 Maart gevier om mense bewus te maak daarvan dat liefde nie kromosome tel nie.

*Dankie aan Yolandé, Steyn en Yolané dat ons julle storie met die res van die Magies vol liefde familie kan deel.

Cart
Open chat
We're here to help ☺️
Powered by Happiness 👶
Hi there 👋

If you have any questions about ANYTHING on the Wêreld Downsindroom Dag 2020 page, simply ask here 👐